Saturday, April 28, 2012

Kolombië



























Nie 'n land met 'n goeie reputasie as reisbestemming nie, maar die land in Suid-Amerika waarna ons nog altyd wou terugkeer omdat soveel mense ons vertel het dat dit hulle gunsteling land op die kontinent is. Daar moes iets agter die reputasie sit het ons gereken.
So het dit gekom dat ons begin April ons reissakke gepak het om vir twee weke die land van koffie en kokaiëne te gaan verken. (Laat ons sommer dadelik gerusstel, ons het wye draaie om laasgenoemde geloop).

Die standaard van Deventer reisgeselskap is aangevul met 'n maatjie, Lizeli. Die drie van ons het soveel as moontlik van Kolombië gesien en beleef in 14 dae.


Di Capital
Bogota. Soos met meeste hoofstede, 'n besige en deurmekaar plek, maar mens kry gou die ritme. Die stad is 2,625m bo seespieël omring deur berge.  Ons het twee aande en een dag hier spandeer en toe die pad gevat.  Selfs in die warboel van Bogota het dit ons reeds opgeval dat die Kolombiane baie vriendelik is en graag wil help.  Dele van die stad is mooi reggemaak en word skoon gehou terwyl ander dele verval. Die verkeer is mal en karre tot busse ry soos hulle wil, 'n netwerk van eenrigtings maak dit ook nie makliker nie.





















































Van Bogota het ons na die sout katedraal net buite Zipaquira gaan kyk.Sout is hier van die 15e eeu al gemyn.Myners het aan die begin van elke nuwe tonnel ‘n kruis uitgekap om God se beskerming oor daai tonnel te vra. 

Berge

Die natuurskoon in Kolombie is asemrowend. Soos met ander dele van Suid Amerika wat ons al besoek het, is die afgeleë dele redelik onaangeraak (in vergelyking met Asië waar jy nie sommer iets teëkom waar jy nie mense se invloed kan sien nie).

Ons het deur pragtige groen valleie gery en kon nie uitgekyk raak nie. Een van ons bestemmings was die Sierra Nevada del Cocuy park in die Andes. Dit was 'n stryd om hier uit te kom aangesien die laaste 125 km tot by die park 'n verspoelde bergpad is waaraan ons drie ure plus gery het. Maar dit was die moeite werd! Dit was ongelooflik om in die berge te wees. Ek gaan hier stop, want dit is beter om natuurskoon maar met foto's te verduidelik.

Op pad na die berge toe het ons ook by die Tota meer aangegaan, die grootste natuurlike meer in Kolombië.











    In ons oornaghutjie




Kos

Gelukkig het ons vriend Joggie wat ses maande in Kolombie gebly het ons gewaarsku dat die kos (buiten die vrugte natuurlik) maar vaal is. Dit is wat ons ook gevind het. Ons het wel 'n liefde vir die gevulde mieliekoekies, Arepas, ontwikkel en 'n paar keer lekker vleis gekry. Ons kon wel nie vat kry aan die brood nie wat meer soos koek smaak. Wat wel dadelik 'n gunsteling was is Arequippe, hulle weergawe van die Argentynse Dulce Leche, basies gekarmeliseerde kondensmelk.

Wat interessant was, was dat die Kolombiane  op vreemde tye vreemde dinge eet, ons het afgekom op 'n Parilla (braaivleis) langs die pad wat stampvol was  tienuur die oggend. Ons het pas ontbyt geëet so het nie kans gesien vir die hoop vleis en aartappels nie, maar het die volgende middag 12 uur teruggegaan en was die laaste mense. Dit was een van ons lekkerste etes.

Een van ons ander hoogtepunt etes was hierdie gestopte vark wat ons op die mark in Bogota raakgeloop het.


En soms van ons enigste opsie die plaaslike burger.


Parilla, ons het vingers afgelek.



Opsies is beperk, wat verfrissend is vir ons bederfde London inwoners wat enige iets onder die son waarvoor ons lus voel in die hande kan kry. Hierdie is 'n tipiese supermark, kos opsies: soutkoekies, geblikte tuna of sardientjies, grondbroontjies, pasta en dit is min of meer dit.  Ons stapkos vir die berge was nie baie opwindend nie. Ons kon onsself darem met 'n klein blikkie kondensmelk bederf.

Of jy kan 'n maal maak van hierdie reuse vlieënde miere.  Ons het nie kans gesien nie (Marna het 'n verskoning, maar die ander twee is net nie "hardcore" genoeg nie.)


Langs die pad: hierdie was ook 'n gunsteling, Arepa mieliekoekies.  Hierdie vroutjie het ook vir ons 'n koringopsie aangebied wat baie lekker was.  Die vreemde wit drankie wat ons saam met dit gedrink het was wel minder lekker.


Kolombië wors


Ons tropiese ete in Minca, van mango- tot koffiehoender.


Vars vis langs die see


Oppad

'n Goeie aanduiding van die toestand van 'n land se paaie is wanneer jy navraag doen mense vir jou afstand in tyd in plaas van kilometers gee.

Na twee dae in Bogota het ons 'n kar gehuur om die bergagtige dele noord van Bogota te gaan sien. In die eerste plek was dit nie maklik om uit Bogota te kom nie want daar is byna geen borde wat jou uit die stad lei nie, op die oop pad het dit beter gegaan met vernouings en padwerke hier en daar, maar ons het gemiddeld teen 'n goeie 60-80km per uur gevorder. Dit was wel die bes onderhoude pad in Kolombië. Met die dat dit so baie en vinning baie reën verspoel die paaie gedurig. Dit wil voorkom of die owerhede handdoek ingegooi het om die paaie te onderhou. Dele het byna helfte van die pad by die berg afgeval en ander dele bly net kolletjies teer oor wat beter is om mis te ry. Gert het moeite gehad met die bestuur, maar ons meisies vermoed hy het in die geheim die uitdaging om met sy gehuurde-grassnyerenjin-Kia die paaie baas te raak baie geniet.
Ry op slegte paaie maak egter nie saak as dit jou deur pragtige afgelee landskappe neem nie, so die lang ure en stadig ry het ons nie gepla nie.



     Waarheen nou?

    Vra eerder

     Ons "off-road" Kia

   Saam met ons vriend van Santa Martha, Fernando.


     En op die bus

Veilig

Santa Marta is die eerste plek na Bogota waar ons regtig ander buitelandse toeriste teëgekom het. Net hier en daar het ons 'n nie-Kolombiaan raakgeloop. Ons vermoed mense is nog maar skrikkerig. So dalk is dit wat Kolombië so spesiaal maak. Daar was definitief nog nie baid Suid-Afrikaners daar nie, ons was dikwels die eerste besoekers van SA op plekke en keer op keer moes ons oortuig dat daar wit mense in Afrika bly.
Ons kan eerlikwaar sê dat ons nie vir een oomblik onveilig gevoel het nie, daar is sterk polisie en weermag teenwoordigheid orals waar ons gegaan het, dit is duidelik dat die regering die vorige situasie en reputasie van die land wil herstel.

Vrugte

Vrugbare land lewer natuurlik wonderlike vrugte op. Die heel eerste plek wat ons besoek het was die mark in Bogota. Dit is 'n paradys van vrugte van die alledaagse piesang (waarvoor Kolombië natuurlik wel bekend is - jy sou al 'n paar geëet het, hulle staan nie vir niks bekend as die Banana Republic nie) tot eksotiese vrugte waarvan die name ons steeds ontwyk. Een van ons gunstelinge was 'n groot geel grenadella wat jy met jou nael oop kraak. Aan die begin het ons dit mooi beskaafd met teelepels uit geëet, maar kort voor lank het ons dit soos die Kolombiane uit die dop geslurp. Ander gunstelinge was hulle mangoes, pynapples, koejawels en papajas. Ook hulle tamaties en avokado's, krom en skeef met merke, was baie geurig in vergelyking met die perfekte produkte wat ons hier in Engeland kry.













Trotse gemeenskap
Ons was beindruk met hoe skoon en goed versorg die land en gemeenskap areas is. Elke dorpie is uitgelê in blokke gevorm uit calles (noord-suid strate) en carreras (oos-wes strate). Die blokke is gesentreer rondom die plaza met pragtige parke en waaroor altyd 'n groot kerk waak. Dit was duidelik dat die plaaslike gemeenskap trots is op hierdie plazas en laat middag is dit waar almal hulle tyd kom verwyl. Daar is koswaentjies as jy iets wil peusel of jy kuier op die stoep van die plaza "cafe" met 'n biertjie (kuier met 'n biertjie is eintlik goed enige tyd van die dag). Kinders en honde hardloop die hele plek vol. Wat ons ook opgeval het is hoe netjies die kinders se skoolklere was, dit gee die idee dat daar iets gebeur by die skool.

     Villa de Leiva

     Ons het on 'n lieflike hotel hier gebly, ons mees luukse verblyf vir die vakansie.






     Mongui



     'n Klein plekkie oppad na die berge

     Barichara




     Raquira



     El Cocuy




Kolombiane
Die mense is baie vriendelik beide in die stad en platteland.  Op die platteland bedryf baie Kolombiane 'n rustige bestaansboerdery en in stede en dorpe was daar baie entrepeneurs met koswaentjies en stalletjies.

Kolombië (8ste) is een van die min lande in die wêreld wat 'n hoër Gini koëffisiënt as Suid-Afrika (10e) het (die Gini koëffisiënt meet inkomste verdeling tussen ryk en arm). Aanvanklik het ons nie veel armoede of ekstreme rykdom gesien nie, maar in Santa Marta op die Karibiese kus was die armoede duidelik op plekke en in teenstelling met ons terugkeer na Bogota, het ons die weelde van Noord Bogota gesien.







Kolombiane is baie godsdienstig en die Rooms Katolieke kerk is baie prominent.  Ons besoek het oor Paasnaweek geval wat hier in 'n groter mate as Kersfees gevier word. Op Goeie Vrydag neem die hele dorp deel aan 'n optog wat Jesus se kruistog uitbeeld.


Kolombiane is baie erg oor hulle honde.  Elke ander persoon loop met 'n hond aan 'n halsband of in die arms rond, dikwels opregte honde.  Lizeli was veral opgewonde oor die baie Schnauzers wat ons raakgeloop het in Bogota veral. Ons het byna geen katte gesien nie, wat vreemd is want behalwe vir Europa is daar maar altyd 'n rondloper kat te siene.





Koffie

Om eerlik te wees ons het nie regtig lekker koffie raakgeloop nie. Ons het baie koppies probeer en dit het gewissel van aaklig na goed, maar nie een keer was dit ongelooflik nie. Die probleem is wel nie die koffie self nie maar die styl waarin hulle koffie maak. Ons hou van sterk Espresso-styl koffie terwyl hulle koffie filter wat 'n flouer, in ons opinie afgewaterde, koffie lewer. Ook as jy vir "café  con leche" vra gee hulle vir jou koffie gegeurde warm melk in plaas van koffie met 'n bietjie melk, "café  con poca leche" - koffie met bietjie melk het soms beter gewerk en ander kere nie.  Maar ons het baie koffie huis toe gebring en gebrou in ons Bialetti is die baie lekker.

Ons het onder andere koffie saamgebring van die "finca" La Victoria wat ons besoek het. Die aanleg wat hulle op La Victoria gebruik is in die laat agtien honderds geinstalleer en is steeds vandag in gebruik.  Die hele aanleg word met hidro-krag aangedryf.  Gert veral het die uitstappie baie geniet. Soos met baie dinge besef mens na so besoek hoeveel tegniek en kuns agter 'n produk sit.
'n Koffie-karretjie in Bogota, hierdie outjie kan glo ry ook het die eienaar ons veseker.

En 'n koffie-waentjie in Chiquinguira.



Hier koop ons ongeroosterde koffiebone.

By hierdie Café  in Villa De Leiva het ons seker ons beste koppie koffie gedrink.

La Victoria


Inspeksie van 'n koffieboom.





Groen

As jy dink Engeland kry baie reën, besoek Kolombië. Dit reën elke dag, maar anders as die Britse eilande reën dit ordentlik en kry klaar. Die gevolg is dat die land pragtig groen en baie vrugbaar is. Ons is oortuig daarvan dat jy enige iets in die grond kan druk en dit sal groei. Sover jy ry sien jy ruie groen bosse en net hoog in die berge dun die plantegroei uit.  Gedurig het een van ons opgemerk die of daai plant groei in my ma en pa se tuin, want baie van ons tuinplante se oorsprong is Suid-Amerika. 









Sol y mer

Na afloop van ons avonture op die pad met ons gehuurde Kia het ons na die Karibiese kus gevlieg vir 'n paar dae.  Ons het in 'n dorpie Santa Marta geland waar die aanloopbaan langs die strand af loop. In plaas van in die wagkamer wag kan jy op die strand jou tyd verwyl. Ons het dit wel nie gedoen nie want ons was desperaat vir die bietjie wind wat die waaiertjie in die kafeetjie kon genereer want dit was onsaglik warm.

Santa Marta is 'n droeë oorontwikkelde vakansie oord en ons het so gou as moontlik uit die stad gekom. Ons eerste aand is ons terug die berge in om by die koffieplaas, La Victoria, wat ons vroeër genoem het uit te kom. Ons het hier net buite die nedersetting, Minca, by 'n lieflike gastehuis gebly. Dit was opvallend hoe die droeë klimaat van Santa Marta binne 'n paar kilometer in tropiese woude verander. Die berge keer natuurlik die reën af van Santa Marta.

Na die berge en met sakke  vol koffie is ons na die nasionale park,Tayrona, toe. Ons het vir twee ure deur digte tropiese bos gestap na 'n kampeer area op die strand. Dit was bietjie van 'n "backpacker" utopia met afdakke waaronder rye hangmatte hang en jy nooit seker sou kon wees waar jou bed is of wie saam met jou kom lê nie.  Dit was so bietjie van 'n teleurgestelling want ons het gewoond geraak daaraan om die enigste toeriste te wees. Gelukkig het ons ons eie tent gehad en die spierwit strande en kristalhelder see maak op vir enige iets.  Ons het ons tyd hier verwyl deur leeg te lê op die strand en het darem ook na 'n vervalle dorp gestap. Die bestemming was 'n teleurstelling maar die 5km stap deur tropiese woude was asemrowend. Veel meer kon ons nie doen nie want dit was verlammend warm. 'n Idilliese stukkie van die aarde. Na twee dae by die see was ons verveeld en reg om aan te beweeg....nie 'n punt wat ons ooit in die berge bereik nie;o).









 

 


Nog 'n fantastiese reis en ja ons sal teruggaan sodra ons 'n kans kry.  Lizeli het haarself mooi gedra en sal weer saam genooi word.

Nog 'n paar foto's.